‘n Kwart van ons roete was ons vir oulaas bederf met teerpad en toe moes Fordjie wys of sy ‘n 2 x 4 of ‘n 4 x 4 wou wees. In dik sand het Tinus weer die 4 x 4 skakelaar probeer aktifeer, maar soos met die olifant eskapade wou niks werk wat moes werk nie.
In my geheue ingeprent was nog die paniekerige geskarrel van die skroewedraaier by die 2H, 4H, 4L skakelaar by die ratstok. Op my aanmoediging herhaal Tinus toe die proses en daar werk dit toe weer. Ons was albei verlig om te weet ons is voorbereid vir wat op ons gewag het met die Ford in 4H en die difflock wat darem nog gewerk het op aanvraag.
By Third Bridge Camp Site was net worsbome en ‘n grillerige, stink ablusieblok wat duidelik nie deur besoekers meer gebruik word nie. Die “solar stort” was my eerste keuse en boonop het dit ‘n heerlike warm stort moontlik gemaak somer so reg langs die Ford in die natuur.
Ons het kamp opgeslaan reg langs die seekoeie se watergat. Hulle het ons regdeur die nag en in die oggendure geselskap gehou. Die wat er was blykbaar so verfrissend dat hulle omtrent nie uitgeklim het om besoekers te kom verras nie. (Was ook maar dankbaar daarvoor)
Later die oggend het ons enigste bure gepraat van ‘n hiёna wat in die kamp was met eerstelig, wat gelyk het of hy ‘n strik om die nek gehad het wat in sy vel ingesny was. Ons het geslaap toe die hiёna by ons tent was (genadiglik).
Toe ons kamp opslaan was daar ‘n groot trop bobbejane wat besig was om ons bure se explorer sleepwa en tent te “geniet”. Die klein bobbejaantjies het fees gevier op die tent se dak wat hulle platgerits het en op rondgeswaai het. Die vullissak binne-in die tent was ontdek nadat die bobbejane so ewe die valcro van die seile oopgemaak het om by die vullissak uit te kom. ‘n Suur reuk het in die tent gehang en ons was dankbaar ons tent was gespaar.
Ons het beplan om 3 nagte by hierdie kampplek te oornag maar het nie lus gehad vir nog twee nagte by hierdie plek nie en het besluit om aan te stoot na die Xakanaxa kampplek wat hopenlik meer te doene gehad het.
No comments:
Post a Comment