Monday, December 17, 2007

5 Desember 2007: Maun, Maun Lodge

Omtrent 4:00 die volgende oggend het ek ‘n leeu baie na-aan ons kamp hoor brul. Eers het ek gedink my ore bedrieg my, maar met die derde brulslag, baie nader, het Tinus bevestig dat dit wel ‘n leeu was. Rooibokke in die rivierbedding het geblaas en dit was duidelik dat dit die ou grote se ontbyt sou wees. In ons daktent met die luiperdvelmotief duvet en my Sweetie se warm lyf so styf teen my, het ek ongelooflik veilig gevoel en weer rustig aan die slaap geraak tot dagbreek.

Toe alles veilig was, het ons vinnig kamp opgeslaap en ons eerste koue stort gaan neem by die ablusieblok. Dit sal sekerlik die eerste van baie koue storte wees.

Oppad na Maun is die teerpad baie goed. Donkies, perde en beeste is volop en ‘n mens moet maar versigtig bestuur waar diere langs die pad opgemerk word.

Land Rover, Maun Nissan en J & N Electronics op Maun kon die Ford se 4 X 4 meganisme nie herstel nie en so besluit Tinus toe dat die hublock / difflock en 4H (high range) maar die ding moet doen waar 4L (low range) andersins sou moes werk.

Vir 50 pula per persoon per nag kry ons slaapplek by Maun Lodge and camp site (daar was net een camp site), agter die baie luukse lodge. Die lodge was vol bespreek behalwe vir die presidensiёle suite
wat nog beskikbaar was @ 1000 pula per persoon per nag.

Die 3G is nog steeds ‘n groot probleem en ons blog nuus begin al hoe verder agter raak.

Vanaand eet ons potbrood en braaivleis om kragte op te bou vir ons volgende wildernis avontuur.

No comments: