Die Nasionale Park het massiewe doringbome en oral is boomgeraamtes wat soos standbeelde die natuur versier. Dis hartseer om soveel dooie bome te sien, maar dis tog ook pragtig. Nou weet ek ook waar die fotografie tydskrifte hul foto voorbeelde vandaan kry met die boom geraamtes en baie sand.
Die Natuurbewaringsbeampte by ontvangs het gewaarsku dat baie wild gemigreer het agv die droogte wat in die park ervaar word. Dit het ons tog laat besluit om te gaan ry deur die park op soek na wild.
By die “Hippo Pool” aanwysing het ons ‘n massiewe olifant onder ‘n groot boom gekry wat besig was om te wei. Die pad het gelei na ‘n droё rivierbedding met plek-plek groot watergate wat beset was deur troppe olifante wat van die ontseggende hitte van 47 º C ontvlugting gesoek het. Die kameelperde wat saam met die olifante watergedrink het het nuuskiering na ons aangestap gekom en ons het besluit om maar verder te gaan.
Oral in die rivier bedding het ons karkasse van diere gesien en dit was duidelik dat baie diere dalk eerder van die droogte gevrek het en nie gemigreer het nie. Dit het ook nie voorgekom of wilde diere aan die karkasse gevreet het nie omdat sommige karkasse nog vel oor die dorre bene gehad het. Dit was ‘n hartseer gesig.
Daar was oral olifante in die rivierbedding. Toe ons deur ‘n dik sand gedeelte in die tweespoor padjie ry het ek ‘n jong olifantbul opgemerk agter digte doring bome voor ons in die pad wat vinnig in ons rigting in aantog was. Toe ek hom vir Tinus uitwys het Tinus remme aangeslaan en daar staan die Ford toe in die sand, 4 x 4 skakelaar wou niks weet om te werk nie en die olifant kom vinnig nader. Wat fout met die skakelaar was sal niemand weet nie omdat alles getoets was voor ons by die huis weg is en 100% in werkende toestand was.
Paniek is ‘n lelike ding. Dit laat jou tale praat wat nie heeltemal eie is aan jou nie. Dit laat jou aan maniere dink hoe jy vir die olifant gaan weghol teen ‘n sandwal uit wat drie keer jou hoogte en baie steil is. Dit laat jou dink aan maniere om die Ford se wiele oop te grawe aan die teenoorgestelde kant van die voertuig, buite sig van die olifant. Dit laat jou dink aan mense wie jy graag sou wou groet as dit jou laaste dag moes wees. Dit laat jou baie nederig en met groot nood in jou binneste vir Liewe Jesus vra om jou asb uit jou nood te help. En dit laat jou liewer gladnie foto’s neem in jou benarde situasie nie omdat dit moontlik jou posisie kan verklap aan die olifant wat gladnie van sulke geluide sal hou nie!
Ons gebede moes ‘n duidelike en dubbele noodkreet gewees het, want die massiewe olifant het effe rigting verander en omtrent op so 20 meter verby ons gestap, agter ‘n bronstige olifant koei aan. Hy het kort-kort vasgesteek en in ons rigting gekyk asof hyself gewonder het hoekom hy nou eintlik van koers moes afwyk.
Op ‘n veilige afstand het my held, uit die Ford gespring, die gereedskaptas agteruit die voertuig gehaal en haastig begin soek na die oorsaak hoekom die 4 x 4 skakelaar nie wou werk nie. Die skroewedraaier wat paniekerig karring in die meganiesme langs die ratstok, soekend na die oorsaak wat ons in die penarie laat beland het, is vir ewig in my onderbewussyn ingeёts.
Met die olifant bul op ‘n veilige afstand en die Ford, uiteindelik in 4H het ons met ‘n spoed probeer om uit die rivierbedding te kom en so vinnig moontlik terug te kom by die kamp.
By die kamp het ons kamp opgeslaan onder ‘n massiewe doringboom, ‘n ekstra groot braaivleis vuur gemaak en gewag vir die donker en nog meer verrassings wat moontlik op ons gewag het.
Toe ons uiteindelik tot ruste kom het die skok van die dag se olifant eskapade my eers getref. ‘n Geweldige naarheid en hoofpyn het hulle kom tuismaak in ‘n ltyf vol bewerasie! ONS VAKANSIE HET NOU EERS BEGIN.
Vandag wou ek verder skryf aan ons blog, maar 3G ontvangs is zero.
‘n Dreigende reёnstorm het ons vinnig alles laat wegpak en ons na die veiligheid van ons daktent laat gaan. Om 19:30 was ons veilig in die kooi en die nag maanloos met blitse wat korter opmekaar gevolg het en ‘n belofte van baie reёn ingehou het vir ‘n dorre land met baie geraamtes.
Slaap het genadiglik vinnig gekom.
No comments:
Post a Comment