Sunday, December 30, 2007

24 - 25 Desember 2007: Ou Kersdag en Kersfees

Ons wou vroeёr vertrek huistoe, maar met ons vorige kersfees en oujaarsdag nog vars in die geheue, stoksielalleen en eensaam tuis, het ons besluit dat hierdie kersfees die hoogtepunt van alle dae van hierdie hele vakansie moes wees.

‘n Week voor die tyd het ons al inkopies gedoen om Kersfees ‘n baie spesiale bos kersfees te maak. ‘n Spesiale boom moes gevind word vir ‘n kersboom en die mooiste handgemaakte Boabab, eie aan hierdie wêreld was daarvoor uitgesoek. Handgemaakte, gekerfte en gekleurde kalbassies moes dien as die ronde versierings aan die boom. Drie handgemaaikte, pieuter, engeltjies het dit meer na ‘n kersboom laat lyk. Gras geweefte mandjies met lekkergoed in het voorsiening gemaak vir ongenooide gaste se verrassinkies. Om dit meer na die wilde natuur te bring, het klein wilde diertjie sleutelhouertjies gesorg vir die res.

Ek en Tinus was beide soos kinders wat uitgesien het na hul eerste kersfees saam. Ons kon nie wag om die boom te versier op die 24ste nie.


Ewe handig het Tinus na ‘n groot soektog na die nodige elektriese draad en gloeilampies vir ons gekleurde liggies geprakseer onder ons tent. Toe die liggies in plek was, het ons sommer dadelik begin met voorbereidings vir ‘n ongelooflike ou Kersdag.
Twee tafels moes ‘n groot genoeg plek maak vir die “kersie boom” (kersboom) en vir alles wat nodig was vir ons bos fondu. Met ‘n spesiale bos tafeldoek oor het die groot voorbereiding van die kosse begin. Daar was nie ‘n groot verskeidenheid van eetgoed vir die fondu nie omdat die plaaslike winkel, Choppies dit nie toegelaat het nie.

In die Chobe Safari Lodge se geskenke winkel het ons die oulikste kerskaartjie raakgeloop … dis so in die kol met die bos kersfees tema.

Jagluiperds is Tinus se geliefkoosde dier en die kaartjie was so in die kol om op die kerstafel te wees.


Nadat dit uiteindelik donker geword het, so by 19:00 se kant, het ons die kersies aangesteek en het ons heerlik weggelê aan die eetgoed en ‘n rooi wyntjie. Die geselskap was baie spesiaal. So tussendeur het ons sms’e ontvang en ‘n spesiale oproep van Carien wat klink of sy “verkoue” het en baie verlang. Nodeloos om te sê, die verlange hierdie kant was net so groot en dit het geklink of Ma met ‘n verkoue gaan slaap het.

Aan die einde van die aand het ek en Tinus albei besef dat ons Skepper vir ons die wonderlikste omgewing gegee het om Sy geboortedag in te kon vier. Daar was soveer spesiale mense om ons wat kort-kort ingeloer het vir ‘n geselsie en vir wie ons iets kon beteken. Verder het Hy sy diereryk en voёls met soveel sorg en volmaaktheid geskep sodat ons iets wonderliks gehad het om Sy handewerk in te kon sien om ons nader aan Hom te bring.

Ons kon vir geen beter en mooier kersdag gevra het as vir hierdie spesiale dag in Kasane, Botswana nie.

Mag al ons familie en vriende ‘n baie geseёnde kersgety beleef en mag hierdie nuwe jaar wat op ons drumpel is, voorspoed en seёn inhou.

Groete tot ‘n volgende keer,

Tinus en Pikkie

No comments: