Sunday, December 30, 2007

23 Desember 2007: 2de Rivierboot vaart

Vandag is Mamma Bettie se verjaardag en het ons na Potch gebel om haar geluk te wens met die verjaardag. Ons is oor vier dae, presies al ‘n hele maand met vakansie en ons mense verlang na ons en mis ons.


Om 15:30 het ons weer met die Fish Eagle II Rivierboot op die Chobe rivier gevaar. Ten eerste was daar by die Chobe Nasionale Park se water kantoor gestop om al die passasiers se park permitte in te handig. Tydens ons vorige rit was ons park permit nog geldig en was ons kwytgeskeld van die addisionele park fooit wat die passassiers van die rivierboot moet betaal. In teenstelling met die vorige rit moes ons nou ‘n addisionele 70 pula persoon park fooie betaal plus die 110 pula per persoon om die rit op die rivierboot te kon meemaak. Die Rivierboot toegangsgeld dus per persoon was nou 180 pula, wat elke tsebe (sent waarde) werd is.



Saam met ons groot rivierboot het daar omtrent vyf ander klein bootjies vanaf Chobe Safari Lodge vertrek met toeriste. Die interessantste van al die bootjies, was hierdie bootjie op die foto. Behalwe vir die man wat die boot bestuur het en wat terselfdertyd ook die gids was, was ‘n vrou wat moes sorg vir drankies en eetgoed vir die passasiers, maar sy het ‘n geheim met die gids gedeel wat die passasiers nie geweet het nie …



Sy het ‘n plastiese bak gehad waarmee sy die water uit die boot geskep het sover hulle gery het … lekker agter die rûe van die passasiers! Toe sy agterkom dat ek daarvan geweet het, het sy verleё geglimlag en haar toegespits op haar belangrikste taak.

Nodeloos om te sê ons was baie dankbaar ons was op die groot rivierboot!




Judith, die “skipper” van die Fish Eagle II, is ‘n 23 jarige swart meisie wie haarself eers gekwalifiseer het as Ouditeur voordat sy haar 18 maande kursus gedoen het as toergids. As toergids het sy ‘n hele klomp modules gedoen wat onder meer studies behels het oor insekte, soogdiere, visse, arachnida, slange, aardrykskunde en sommer nog baie meer. Wat haar die meeste gefasineer het, was toe hulle studente moes leer met ‘n geweer jag. As meisie wat gladnie met vuurwapens grootgeword het nie, het dit die grootste indruk op haar lewe gemaak.




Shadrack het homself weer oortref met sy kennis, aanbiedingsvaardighede en sy verm en puik kliёntediens. Die mense in Botswana is baie goed gekwalifiseerd en het in baie gevalle meer as een beroepsrigting in studeer.

As “gasheer” van die rivierboot kry hy met elke groep wat hy uitneem ook probleem gevalle, bv passasiers wat te veel drink en dan aan die slaap raak waar hul sit of gaan lê, of rumoerig raak en ‘n steurnis is vir die voёlkykers. Shadrack weet net wanneer om die dek se toegang oop te maak sodat van die rumoeriges boontoe kan opklim en die voёlkykers dan in vrede hul fotografie kan beoefen. Hyself posisioneer homself dan so dat hy ‘n oog oor die probleemgevalle kan hou en dan ook nog inligting met die geinteresseerdes kan deel. Gelukkig was daar nog niemand seekoei/krokodil kos nie!





Op hierdie vaart het ons heelwat meer krokodille teёgekom en die seekoeie was nog steeds op die plekke waar ons hul met die eerste bootvaart gesien het. By die seekoei poel het ons weer ‘n hele paar kleintjies tussen die logge lywe gewaar en dit was interessant om hierdie groot diere dop te hou en te sien hoe die groot seekoei mammas ook kwaliteit tyd aan hul kleingoed spandeer.

As ‘n mens kyk na die grootte van ‘n seekoei koei se bek, moet sy baie maklik haar kleintjie sommer baie seer kan byt, maar dit gebeur nie maklik nie.




Die seekoei mamma hap speels na haar kleinding met soveel deernis, dis amper voelbaar. En kleinding tempteer sy mamma sonder ophou. Die twee het vir ure gespeel terwyl ons hulle dopgehou het.



Op ‘n eiland het ons ‘n massiewe trop olifante gesien wat spesiaal daarnatoe gekom het om te kom modderbad. Die jonges was ook in ‘n speelse bui. Wanneer die een olifant bietjie gesukkel het om weer ewewig te herwin nadag hy/sy opgestaan het uit ‘n modder poel, het die ander ewe hulpvaardig met die slurp nadergestaan en hom/haar ontverm oor die maat.

Stil-stil het ek ook begin kyk na die wilde voёls en gedink aan die Duitsers wie ons op die vorige vaart ontmoet het.

As ons nuutgefonde Duitse vriende Gesa of Karsten nou hier was, het ek presies geweet wat die name van al die voёls was wat ek skielik begin dophou het.

Schadrack het vir ons vertel dat Visarende 'n voёl spesie is wat getrou is aan hul maats. Wanneer 'n paar bymekaar gekom het is hulle vir 'n leeftyd getrou aanmekaar. Die wyfies is merkbaar groter as die mannetjies. Die roep van die Visarende het ons elke dag in Botswana gehoor en ons gaan dit mis as ons eers terug is in Gauteng.

Soos die statige ou dame opgemerk het; het hulle eers soogdiere en wilde diere begin navors en identifiseer en toe hulle elkeen geken het, het hulle begin om voёls te identifiseer en te leer ken. Hulle doen dit om hul breine aktief en gesond te hou nadat albei afgetree het.

Dis ‘n les vir almal en ek dink, in die vervolg gaan my voёl boeke ingepak word wanneer ons met vakansie gaan. Selfverryking is ‘n keuse wat elkeen moet maak. Aan die einde van die dag is dit tot voordeel van jouself en kry mense vir jou respek as jy nie net ‘n leё dop is met grys hare wanneer jy die dag oud is nie, maar grys hare het en jong mense nog steeds kan leer van jou as ouer persoon.

Ek het weer gekyk na die pragtige lodge toe ons dit genader het en het besef hoekom dit so gewild was. Die voorkoms sowel as die warm hartlikheid van al die personeel wat daar werk, het dit ‘n baie spesiale plek vir ons gemaak en ons sal weer daar wil gaan vakansie hou.

No comments: