Sunday, December 30, 2007

26 Desember 2007: Kasane, totsiens

Vandag is oppak dag om vanaand vir oulaas in Chobe Safari Lodge in styl te gaan week in ‘n propvol bad water met genoeg badskuim om te hou vir ten minste ‘n hele uur.

Stil-stil het ek en Tinus ‘n gebedjie opgestuur vir sonskyn omdat dit vir 2 dae al katte en honde reёn en die tent nie nat gebêre kan word om vir die Mokoro ‘n rusplek te maak tot dit uiteindelik weer afgehaal kan word by die huis nie.

Ons gebede was verhoor en om 12:00 was ons reg om die Ford te verskuif na die chalet’s se parkeerarea. Chalet 67 is aan ons toegeken en nadat ons die nodige daarin gebêre het, het ons vir oulaas al ons spesiale plekkies in Kasane en in die Chobe Safari Lodge gaan besoek.

Sover ons gestap het, het mense met wie ons bevriend geraak het vir oulaas kom groet en adresse en foonnommers uitgeruil. Judith, ons rivierboot se skipper het nadergestap en was stiller as voorheen. Vir oulaas het ons ‘n foto van haar geneem en toe maar oor haar familie in Gabarone gesels en oor haar toekoms planne wat sy het om Amerika toe te gaan en daar ‘n lewe te gaan begin. Chobe Safari Lodge gaan haar verseker mis omdat sy een van hul mees bevoegde personeellede was.

Een van die bestuurders by die besprekings kantoor, Tymon, het na ons gestap op die terras waar ons voor die restaurant gesit het en vir oulaas die rivierbote dopgehou wat ingekom het na hul “sunset cruise”. Hy was onder die indruk dat ons reeds die oggend vertrek het en was duidelik bly om ons daar te sien.

Tymon het genoem dat hulle die middag oor ons gesels het. Daar het ‘n toergroep van RSA aangekom met ‘n baie ongeskikte toerleier. Tymon het aan sy kollegas genoem dat ‘n mens somtyds mense ontmoet wie jy hoop om nooit weer te sien nie en dat ontmoet jy mense wie jy spyt is om te groet en wie jy hoop om gou weer te sien. Tymon het ons in die laaste katogorie geplaas en gevra dat ons gou weer na Kasane moet terugkeer.

Dis ongelooflik om klaar die gemis in ‘n Swartman se oё te lees en te hoor hoe hy met lof van ‘n ander kultuur as sy eie praat. Min weet die man dat ons gesien het dat die mense in Botswana ‘n nasie is met hoё waardes en opregte en hartlike vriendelikheid teenoor enigeen wat hulle menswaardig behandel.

Nadat ons ‘n heerlike bufet ete in die lodge se restaurant genuttig het, was die bad my uiteindelike rusplek nadat ek vir ongeveer ‘n maand elke dag tevrede was met die luuiksheid van meestal koue storte.

Slaap het ongelooflik gou gekom en stilweg het ek wanneer ek vir kort rukkies wakker was in die nag, die roep van die naguiltjies en die seekoeie wat naby ons kampplek in die groot Chobe gebly het, se geselsery gemis.

Daar was geen bruin hiёnas wat ons pad na die badkamer versper het in die nag nie en dit was nie in die nag nodig om mekaar wakker te maak om saam te stap badkamer toe nie.


Die chalet was ‘n ongekende luuksheid en ‘n welkome rusplek in Kasane … vir oulaas.

No comments: