Saturday, December 22, 2007

19 Desember 2007: Dagtoer na Victoria Valle

Om 08:15, Afrika se 08:00 tyd, het ons per luukse toerbus met sitplek vir ongeveer 20 persone vertrek na die Victoria Valle aan die Zimbabwe kant.

Ons gids, by name Godfrey het ons ontmoet met ‘n koddige “Merry Christmas” hoё rooi hoed op die kop. Toe hy homself as ons toergids voorgestel het, het hy gesê: “Good morning, my name is Godfrey, Merry Christmas and I will be your tour guide for the day." Dis toe nou waar sy naam nie net by Godfrey gebly het nie, en die toevoegsel gesorg het vir ‘n heerlike lag-dag. Godfrey, Merry Christmas het homself by verre oortref as toergids.

Ons het eers by die Victoria Falls lughawe gestop om twee persone, wie sou terugvlieg Johannesburg toe, af te laai. Die lughawe is ongeveer een uur se rit van Kasane af. Met ons wegtrek het ons gesien Godfrey, Merry Christmas was reg vir ‘n lekker kuier-kuier toer.

Ons het eers net gedink dat hy ons na Victoria Valle sou neem en ons dan later weer daar sou kry, maar hy het sommer met die vertrek van die lughawe af verduidelik dat hy heeltyd by ons sou wees en ons na meer interessanthede sou neem as net na die Valle toe omdat ons ‘n eksklusiewe groep van twee was. Ons dag het skielik baie meer interessant geklink as wat ons verwag het!

Deur die Botswana en Zimbabwe grensposte het Godfrey, Merry Christmas ons vinniger as gewoonlik deurgehelp. Sy rooi hoed het ‘n gemoedelike stemming gebring in die strak grenspos werkers se gesigte en by nie een grenspos het hyself nodig gehad om ‘n paspoort te laat stempel nie omdat hy ‘n daaglikse besoeker daar is. Omdat die beamptes hom herken het, het hulle ons ook vinniger bedien. Dit was wonderlik om sonder sorge van een land na ‘n ander te kon oorbeweeg.

By die Victoria Valle aangekom het Godfrey, Merry Christmas, die Zimbabwese vrou nader geroep waarmee hy daagliks werk, om silwer skoon reёnjasse en sambrele vir sy kliёnte te reёl. Dit het ons die blootstelling gespaar aan die ander elemente wat daar staan en wag het en allerhande produkte desperaat probeer smous het aan toeriste om ‘n lewe te kan maak in ‘n baie verarmde land sonder kos of brandstof. Ons gids het ons verwys na die ingang van die woud waar ons vir 3 ure volgens hom moes gaan rondloop.

Tinus en ek het albei gedink die 3 ure in die woud sou te lank en vervelig wees en ons kon nie wag om by die valle te kom nie, maar dis waar die pragtige valle te siene is en beide ‘n reёnjas en ‘n sambreel is ‘n moet. Die sambreel, het ons uitgevind, hou ook reёndruppels van jou kamera se lens af omdat ‘n kamera in ‘n jiffy sakkie toegemaak, op sy beste, nog steeds nie voldoende is nie. (Ons het dit binne die eerste 20 treё in die woud gou uitgevind).

By die Livingstone Standbeeld het my gedagte teruggegaan na foto’s wat ek al gesien het van hierdie standbeeld. Elke keer wanneer ek na so ‘n foto gekyk het, het ek gewonder hoe die omgewing lyk waar die standbeeld opgerig is en of ek dit ooit in my lewe sou kon sien in lewende lywe. En hier sien ek die standbeeld toe en kon ek ook ‘n foto neem sooswat ek dit in tydskrifte gesien het! Die Livingstone standbeeld lyk nogal nors en terwyl ek die kunswerk so staan en bekyk wonder ek onwillekeurig of dit Livingstone se werklike persoonlikheid ook uitbeeld. Was hy werklik ‘n norse man, ‘n militaristiese tipe persoon, ‘n baie streng persoon of was hy dalk ‘n man met status? Die standbeeld van naby is pragtig, maar ek wonder nog oor die persoonlikheid wat hier uitgebeeld word…Ek neem myself voor om seker te maak dat ek 'n positiewe persoonlikheid uitstraal wanneer daar ooit weer 'n foto van my geneem gaan word.

‘n Bui reёn het uitgesak terwyl ons by die standbeeld gestaan het, of was dit dalk die vog van die geweldige water wat sommer hier naby ons gedreun het? Ons het nie omgegee vir die reёn nie. Net om by die Victoria Valle te kon wees was vir ons ‘n bonus en baie spesiaal.

Om foto's te neem het ek fyn probeer fokus met my kamera in ‘n “Ziploc” plastiese sak, waarvan die “korrel gaatjie” oopgemaak was en die lens dan elke keer uit die plastiek gehaal was as die foto geneem word. Die “Ziplioc” het my kamera wonderbaarlik gespaar teen die gietende reёn en sproei van die geweldige water wat in die dieptes afgestort het.

By tye was ek nie eers seker of my foto’s enigsins in fokus sou wees nie en het ek maar soveel moontlik probeer neem, net vir ingeval… Tuisgekom was ons gladnie teleurgestel nie en het ons die lieflikste, kleurvolle en anderse foto’s in die reёn van die Victoria Valle, wat ons vir ons familie en vriende kan wys. Die drie ure was net lank genoeg om van uitkyk punt tot uitkyk punt deur die woud te beweeg en te probeer foto’s neem. Wanneer dit ‘n helder sonskyn dag gaan wees, gaan drie ure in hierdie woud hopeloos te kort wees.

Godfrey, Merry Christmas was in die parkeerterrein om ons te verwelkom en was heeltyd naby ons soos ‘n beskermengel toe ons die reёnjasse en sambrele moes gaan teruggee en daarvoor betaal.

Oppad terug na die dorp en na Victoria Hotel waar ons sou gaan middagete nuttig, het Godfrey, Merry Christmas by die grootste Boabab stilgehou. Op die stam is die jaartal 1925 uitgekerf. Volgens hom het Departement Bosbou monsters van die boombas geneem en dit getoets en vasgestel dat die boom ongeveer 1,500 jaar oud is.

By die Victoria Hotel was Godfrey, Merry Christmas soos ‘n kind wat pragtige goed gesien het en dit met iemand na-aan hom wou deel. Hy het vir ons die beste sitplek gekies op die stoep restaurant, vanwaar ons die boog brug, waar die vredesooreenkoms geteken is tussen Suid Afrika, Botswana, Namibiё, Zambiё en Zimbabwe, kon sien. PW Botha was destyds nog ons president toe hierdie ooreenkoms in twee blou treintrokke van ons Bloutrein geteken is. Ons het later in die dorp oor die treinspoor gery en die twee blou treintrokke wat vir hierdie doel gebruik was, verwaarloos en verlate daar sien staan op ‘n syspoor. Die stoom van die Victoria Valle was ook sigbaar so teen die groen plantegroei.

Voertuie en treine gebruik hierdie welbekende boog brug langs die Victoria Valle. Slegs een vragmotor per keer mag die brug oorsteek en vragmotors staan tou om oor die brug te kan gaan. Motors mag meer as een op ‘n keer oor die brug gaan en wanneer ‘n trein dit gebruik kan geen pad vervoer ook tegelykertyd oor die brug gaan nie.

Die “bungy jumping” toue was sigbaar waar dit van die brug gehang het. Dit is ‘n populêre springplek vir mense met ekstra waagmoed. Nie ver daarvan af nie het ek die kabels gesien waarmee mense oor die vallei kan kabelgly. Vandag was alles egter stil agv die reёn.

Na ‘n heerlike ete van hoender tramezzini en griekse slaai, wat ongeveer ‘n derde van die volume is aswat ons gewoond is aan in RSA, het Godfrey, Merry Christmas ons na die statige, vyfster hotel se spesiale vertrekke en foto’s geneem. Ek het my verkyk aan die “gepigmenteerde” man wat skoon opgewonde lyk en aanhou klets oor hoe spesiaal die een spesifieke sitkamer vir hom was. Eg Britse toeriste sou hier tuis gevoel het en die gids was nog meer tuis daarin! Uiteindelik het ek ‘n foto ongemerk van hom kon neem met sy Merry Christmas hoed. Lyk my hy is nie ‘n ou wat baie daarvan hou om op foto’s te verskyn nie, maar in sy spesiale sitkamer het hy skoon vergeet van die fotograaf wat kort-kort op hom gefokus het, net omdat hy so ‘n unieke karakter was.

Ek het ‘n interessante, amper komiese skets van Paul Kruger ontdek. By die skets het Tinus en ek weer opgewonde vertel wie hierdie statige ou omie was en dat hy afkomstig is van dieselfde plek waar ons vandaan kom. Godfrey, Merry Christmas het al die ander persone op die sketse teen die vertrek se muur geken behalwe vir Paul Kruger.



Nadat ons gids vir ons alles wat vir hom spesiaal was gewys het in die hotel, het ons gevra of hy vir ons by die Kingdom Hotel sal stop.

Hierdie hotel/casino is binne loop afstand van die Victoria Hotel en lyk soos die Zimbabwe Ruïnes van buite en het dieselfde voorkoms as Sun City van binne.


Ons was nie toegelaat met kameras naby die dobbel area nie en was ook nie regtig geinteresseerd om dit af te neem nie. Die dekor binne die hotel is pragtig en buite is metaal standbeelde van Chaka Zulu en sy impies. Tinus het vir Godfrey, Merry Christmas, ‘n Ndebele, sprakeloos gehad met sy heldeverering wat hy vir die Zoeloes gehad het.


Ons gids het na ons deur die Zimbabwe grens gekom het op spesiale versoek by die pond gestop wat voertuie oor die Chobe vervoer tussen Botswane en Zambiё.

2 Motors en een groot trok met ‘n lang sleepwa agter met nog ‘n klomp voetgangers kan op een slag oor die rivier vervoer word. Die trokke het vir kilometers in ‘n tou gestaan om oor die pond geneem te word.

No comments: