Saturday, December 22, 2007

21 Desember 2007: Tiervis hengel in Kasane

Met die vorige visvang herinneringe nog vars in die geheue het ons al vroeg reggemaak vir ‘n visvang ekspedisie saam met Owens, ons vorige gids. Ons tyd is bespreek vir 08:00 – 12:00 en ons wil vandag die oupa van alle tiervisse gaan soek.

Met al ons kamera toerusting, warm baadjies en reёngoed in waterdigte sakke verpak het ons weer saam met Owens op sy motorboot in die kanale in vertrek om eers lewendige aas te gaan soek voor die groot visvang kan begin.

Hierdie keer het Tinus ‘n ekstra versoek gehad … Owens moes help om ‘n Mokoro wat te koop was te soek, wat Tinus wou saamneem RSA toe om vir ons ook ‘n bank te maak sooswat op die Chobe Safari Lodge se Curio Shop se stoep te siene was. Die pragtige lapverf kussings sal ek self verf om die bank ons eie te maak op ons lekker groot stoep.

Sommer vinnig het ons ‘n Mokoro gevind wat driekwart diep in die water gelê het en behoort het aan ‘n stokou man wie ‘n groot gesin gehad het. Dit was een van drie Mokoro’s wat hy gehad het, waarvan slegs een nog bruikbaar was. Die 200 pula het hom breed laat glimlag en in sy taal het hy aan die klein gesiggies en omstanders verduidelik dat dit hulle kersfees geld is. 200 Pula was duidelik baie meer werd as ‘n stukkende, onbruikbare Mokoro.

Ons het die vorige dag reeds gaan navraag doen by Nasionale Parke, Bosbou, die Polisiestasie asook by Waterwese watter papierwerk benodig was om die Mokoro veilig oor die landsgrense te neem huistoe. Dit was duidelik dat dit die eerste keer was dat toeriste by Kasane met so ‘n spesiale tradisionele item wou terugkeer huistoe en almal was te skrikkerig om ‘n dokument saam te stel wat bevestig dat die Moroko wettig gekoop was vir 200 pula en dat ons dit huistoe wou vervoer om ‘n meubelstuk van te gaan maak.

By Waterwese was hul doodbang dat ons dit in die Hartbeespoortdam of ander damme wou gaan gebruik en wou dit eers deeglik bespuit alvorens hulle ‘n sertifikaat sou uitreik om dit landuit te neem. Foto’s het hulle oortuig wat ons daarmee wou doen en dat die eindproduk ver van water af sou wees. Uiteindelik het een van die senior personeel vir ons ‘n pragtige brief geskryf met bewoording wat ons oor die landsgrense moes dra. Of die brief oortuigend genoeg geskryf is sal ons wel sien by die eerste grenspos.

Die klein silwervissies wat Owens gekoop het by Namibiёrs op ‘n eiland wat dit met nette vang, sal sorg vir die groot tiervisse en was duidelik ‘n baie gewilde aassoort.

Met die Mokoro veilig op die motorboot en die visvang area aansienlik verklein en beperk, was die manne nou reg vir die grootste tiervis van die vakansie!

Die klein silwer vissies het hul kant gebring en sommer gou het Tinus ‘n 5,75 kg aan die dun lyntjie en groot hoek gehad waarmee hulle hier visvang. Die tiervis het Tinus laat spook van die voorkant van die boot, tot op die agterkant van die boot en heeltyd moes hulle nog kompenseer en reg balanseer met die Mokoro wat ook nog op die boot was.

‘n Paar keer het die pragtige vis uit die water gespring en toe Tinus besef dat dit ‘n groot vis was, het “bokkoors” van hom besit geneem. Hy het Owens naderhand so mooi gevra: “ Ag please my Boy, don’t let this one get away … please my Boy, please be careful that we do not loose this one …” Vir die fotograaf was dit so komies om die twee te sien spook met die vis en om nog regop bo-op die boot te probeer bly.

Toe die vis veilig in die net was het die lyn losgekom van die hoek. Tinus was in ekstase en “bokkoors” se oupa was beide in sy en Owens se lywe te siene. Ek weet nie wie die meeste gebewe het van die twee nie.

Dit was ‘n wonderlike avontuurryke dag vandag! Ons het ons Mokoro gehad en Tinus het sy groot tiervis gevang en veilig in sy hande kon vashou vir ‘n video en vir ‘n paar foto’s wat kon dien as bewys van die vangs.

Hoe ons die Mokoro veilig in RSA gaan kry, is later se bekommernis. Op hierdie oomblik is die feit dat ons dit gekry het en die groot vis gevang het ons hoogtepunte van die hele vakansie.

Môre gaan sorg vir nuwe opwinding, want ek het ‘n man aan my sy wat hou van opwinding en ons dae hier in die vreemde bly gewoonlik nie te lank daarsonder nie …

Tinus & Pikkie

1 comment:

Tinus & Pikkie said...

Hi Tinus en Pikkie!

Dit lyk of die toer goed afloop.

Ons kon uiteindelik by 'n internet kafee uitkom om jul vordering te volg.

Mooi tiervis wat jy gevang het! Ek wonder nou net.... die balans probleme op die boot. Was dit die Mokoro wat die balans probleem was, of Oupa se pens my kind?!

Ek hoop dat julle daardie Mokoro oor die grens kan kry. Met al die beperking wat geplaas word ter bestryding van die verspreiding van siektes kan hulle [grensposte] vol draadwerk wees.

Gaan goed met ons op Mosselbaai. Drie dae se reën het vandag plek gemaak vir warmer weer. Ons geniet die duikery en het al pragtige seelewe gesien.

Hoop julle het 'n lekker Kersdag gehad.

Groete van die Roderiguese