Vandag het ons vroeg weer na die internet kafee gestap om Tinus se e-posse na sy werk te stuur en om te kyk of ons die blog kan opdateer met nuwe nuus en foto’s. Ons was gelukkig en teen 36 pula (R46.80) het ons al ons nuus op datum gekry, behalwe vir ‘n foto of wat van die lodge, wat nog geneem moes word voor ons dit deel van die blog kon maak.
Die Chobe lodge is ‘n massiewe lodge met hoё grasdakke, lieflike chalets en rondawels, ‘n skoonheidsalon en nog baie meer. Die hoofgebou is onlangs nog verder vergroot om plek te maak vir ‘n baie groter opelug restaurant, opelug kroeg, kuier area en kantore. Om van die hoofgebou na die chalets te gaan, stap ‘n mens met swewende hout padjies wat op hout pilare gebou is. Die plek het ‘n fantastiese atmosfeer en ekstra baie om te doen. 
Die Chalets is uniek. Dit maak verblyf nog meer interessanter en lekkerder. Die chalets is in tipes gegroepeer en alles op die bank van die pragtige Chobe rivier gebou met sy baie seekoeie en krokodille wat vanuit die chalets gesien kan word.
Voor die chalets is sonstoele geplaas op die wal van die rivier waar mens kan sit en ontspan en die natuur kan waardeer. Onthou net die muskietgoed, anders word jy nog weggedra terwyl jy probeer ontspan!
Die interessantste vir my is die “Kwa Maningi Health & Beauty Spa”. Die ou “Barge boat” waarin dit ingerig is, was in die ou dae gebruik om die werkers van die naburige lande asook voorrade na en van die saagmeulens te Serondela te vervoer. Toe die Kasane area ‘n nasionale park verklaar was, is die saagmeule gesluit en was daar geen nut meer vir die ou rivierboot nie.
Tydens ‘n vloed het die rivierboot te lande gekom waar dit vandag nog te siene is. Die boot was eers gebruik vir ‘n pub vir die mense wat gekampeer het en word tans gebruik vir ‘n skoonheid spa. ‘n Botswana meisie wat haar skool loopbaan voltooi het en toe Somatologie studeer het is alleen verantwoordelik vir al die behandelings in hierdie spa. Sy is ‘n pragtige en nederige mensie en as jy sien wat alles op die pryslys aangebied word, kry mens nuwe respek vir haar. Van die behandelings is: Classic Facial (60 min), Luxury Classic Facial (90 min), Mens Facial (60 min), Hydradermie (30 min), High Frequency, Disenorustation, Soft Laser Therapy (30 min @ P250 / R325), Eye Treatment (30 min), Hot stone therapy message (60 min) en nog baie meer.
Van al die verblyfplekke in die Kasane area is hierdie duidelik die gewildste en grootste toeriste atraksie. Hier is baie om te doen en die dorp is binne loop afstand van die lodge af. Tinus stap al lekker vinnig en word nie meer so moeg soos toe ons hier aangeland het verlede week nie. Heimlik is ek dankbaar dat ons aangewese is op ons voete vir waar ons wil gaan inkopies doen, anders sou ons net weer ‘n sit-vakansie beleef het tot nadeel van onsself.
Ons het vanaand die lieflikste sonsondergang gehad en ‘n paar vissermanne gekry wat van die bote se jetty af visgevang het toe ons wou gaan foto’s neem. Donovan, die Bestuurder vir Instandhouding van die Lodge het 'n kompetisie met Tinus aangegaan en was vasberade om 'n troter tiervis as die een van Tinus te vang. Die manne gesels van groot visse wat so met sononder gevang gaan word, maar ons het net die sonsondergang afgeneem en wou nie wag om te sien wat uitgetrek word nie.
Môreoggend 07:45 kry ons ‘n toerbus voor die lodge waarmee ons die Victoria Valle gaan besoek in Zimbabwe. Mense waarmee ons gesels het en wat daar gekamp het, het vroeёr uit Zimbabwe vertrek agv die veiligheid van veral Gauteng voertuie en toeriste in Zimbabwe. Volgens hulle steel die inwoners sover ‘n mens ry brandstof houers en wat hulle ookal kan smous vir geld van die toeriste se voertuie.
Ons het besluit om dan net per toerbus vir ‘n dag deur te gaan na Victoria Valle en nie ‘n risiko te neem met ons voertuig wat soos ‘n “Gepigmenteerde massa vervoermiddel” lyk wat oppad is na Morea gedurende paastyd. Die inwoners sou dadelik ‘n kersbonus identifiseer deur net in ons rigting te kyk en dan is ons dalk net van ons kosbaarste besittings kwyt voor ons terug is in ons land.
Ons sien baie uit om die Victoria Valle volgende te gaan besoek en gesels na die besoek verder.
No comments:
Post a Comment