Tuesday, December 18, 2007

15 Desember 2007: Sononder vanaf die Chobe rivier

Tinus het hierdie spesiale bederf al van Xakanaxa beplan en ons is beide bly dat ons vasbgbyt het tot in Kasane voor ons ‘n rit op hierdie groot rivierboot bespreek het. Die tarief vir ‘n drie ure vaart is 115 pula per persoon en dit is definitief elke thebe (gelykstaande aan ons sent) die moeite werd gewees.

Tydens die vaart het ons langs ‘n bejaarde duitse egpaar van Gabarone, Botswana beland wie albei twee baie professionele persone is en gereelde besoekers aan Kasane is. Die man was ‘n Pediater tot 2003 en die vrou, ‘n kinder- en skole sielkundige tot 2005. Hierdie was hul soveelste vaart en hulle het interessante staaltjies om te vertel en baie mooi herinneringe van Kasane.

Sover ons gevaar het het ons seekoeie in alle groottes gesien baljaar in die water. Massiewe krokodille het op die wal gelê en in die water verdwyn wanneer ons nader gevaar het. Ten minste drie troppe olifante met baie kleintjies in hul geledere het kom water drink en dit was interessant om hulle van die waterkant af te sien en te fotografeer.

Die voёlkykers was in hul sewende hemel met al die Visarende en duisende ander voёls wat ons sommer van naby kon bekyk en fotografeer. Die manne met die la-a-a-ng lense was meer in voёls fotografeer geinteresseerd aswat ek en Tinus was.

Die duitse dame het kort-kort een of ander spesiale voёl aan my uitgewys en gevra of ek dit sien, maar ek het nie regtig altyd geweet wat sy aan my uitwys nie. Ek het besef, sonder om dit hardop te erken dat my voёl kennis beroerd was. Ek het nogal geprikkel gevoel om dit ‘n nuwe bron van selfverryking te maak in die nuwe jaar.

Na ons interessante vaart op die rivierboot het ons en die duitsers ‘n ete afspraak gemaak vir die volgende dag omdat ons geselsies nog lank nie afgehandel was nie.


No comments: