Tuesday, December 18, 2007

12 Desember 2007: Fort Doppies en Casinga basisse

Op 12 Desember het ons baie vroeg padgevat na die M’pacha lughawe tussen Katima en Rundu en Fort Doppies waar Tinus as jong weermagman geleef het toe hy grensdiens moes verrig.

By M’pacha lughawe het ‘n Namibiese weermagsoldaat wat my baie aan die Duitserse Gestapo herinner het, in halwe Engels/Duits/weet nie watse taal nie, vir ons met handgebare daarby verduidelik geen foto’s mag geneem word in die lugmagbasis of selfs van die ingang na die lugmagbasis nie. Kameras was dit tydelik gebêre wanneer Gestapo in sig was.

By die aanloopbaan waar ons weermag se “Vlamgatte” die aanloopbaan eens versier het, het Tinus vir Kobie Van Coller gebel en die spesiale oomblik met hom gedeel. Kobie het sy grensdiens hier verrig en was dankbaar dat Tinus aan hom gedink het.

Die paradegrond lyk nou omtrent na ‘n mielieland van al die onkruid en soetgras en die offisiers podium is nou net ‘n sement blok met paaltjies waaraan die kettings gehang het om die podium af te rond wat nou doelloos en sonder kettings daarom staan.

M’pacha lugmagbasis sal nooit meer dieselfde wees nie en dit sal nooit weer dieselfde trotsheid huisves soos jare gelede nie. Dit sal slegs in ons weermag manne se gedagtes bly voortleef.

Tinus het met ‘n spoed die Ford se neus in die rigting van sy bos weermagbasis, Fort Doppies gestuur en wou nou vinnig daar uitkom om te sien wat oor was van hierdie plek van vele herinneringe.

By die oorspronklike Fort Doppies basis kamp aangekom het hy al die spesiale plekkies van die kamp en doppe wat daar nog rondgelê aan my uitgewys. Daar was so baie goed wat ek kon afneem, maar ek het nie geweet wat die geskiedenis van hierdie plek was en wat werklik waarde gehad het vir Tinus nie. Ek het hom gevra om spesiale goed vir my uit te wys sodat ek dit vir hom op 'n foto kon vaslê, maar het later maar laat vaar. Daar was te veel en so min wat hy werklik met my kon deel. Hierdie spesiale oomblik het ek gerespekteer, ook die trane wat dit gebring het. Hy het tyd nodig gehad om te heel en ek het vir hom tyd en stilte gegun.

Hierdie spesiale Maaikie van my sou ek graag as jong, trotse weerman wou ken in sy weermag uniform. Wat hy en sy makkers vir ons land gedoen het, of probeer doen het, sal niemand wat nie uniform gedra het ooit kan verstaan nie. Ek dink ek verstaan net ‘n klein gedeeltetjie daarvan.

‘n Bekende voertuig se dreuning het ons aandag getrek. Frans het aangery gekom uit Casinga se rigting waar hy die vorige nag oornag het nadat hy soos Tinus al hierdie bekende plekke kom opsoek het. Die twee mans het mekaar broederlik gegroet en toe menslikheid wou oorhand neem, het elkeen weer in sy rigting ontvlugting gesoek van die hartseer van die verlede.

Volgens Frans is die oorspronklike Fort Doppies later verskuif om deel te word van Casinga en het die basis wat Tinus as Fort Doppies geken het, ‘n skool geword.

‘n Hout paal met geroeste doringdraad styf daarom gedraai, is al wat verklap dat daar mense op ‘n tyd in die Casinga basis moes gebly het. Dit was iemand se handewerk wat geroes en nutteloos tussen lang grasse by die ingang na die basis gelê en wag het om net soos die trotse verlede tot niet te gaan ...

Ons het alles gekry waarna Tinus gesoek en verlang het en niks was meer dieselfde nie. ‘n Hoofstuk is afgesluit en die tog terug na Namwi was met ‘n nuwe ywer aangepak.


No comments: