Thursday, November 29, 2007

27 - 28 November 2007: Warmbad

Dagse al ons vriende

Gisteraand was 'n nat en koue aand. Vanoggend weer effe reenerig en verder 'n heerlike dag.

Ons het heelwat besigheid in die dorp gehad met die windskerm wat vervang moes word voor ons oor Botswana se grens gaan en 'n stel agterligte wat vir die bakkie aangebring moes word op die rak waarop die spaarwiel en ekstra brandstof kanne gehou word.

Warmbad se Aventura Oord het wonderlike swembaddens, hydra spa's en ander geriewe, maar daar is nie plek vir 'n kerkmuis in die water agv skoolgroepe wat met busse aangery word om hier te kom ontspan nie. Ons het gladnie eers 'n swem oorweeg nie.

Oppad na die swembaddens maak bosluis voels omtrent in elke boom, op elke tak nes. Onder die bome lyk dit soos sneeu van die voelmis. In my lewe het ek nog nooit soveel bosluisvoels saam gesien nie. Onder die bome loop klein voeltjies wat op verskillende ouderdomme uit die nes geval het. Twee klein voeltjies het mekaar in die soektog na hul nessie raakgeloop. Die grootste moes lankal al uit die nes geval het. Hy het noual geleer self kossies soek en sy kroppie is redelik vol, maar hy lyk redelik geskok in die lewe. Die kleinste van die twee moes onlangs uit die nes geval het. Sy kroppie is leeg, hy stap rond asof hy die dinge op die grond nog uitkyk en wanneer hy by sy maatjie kom, is dit asof hy 'n sielsgenoot gevind het. Saam sit hulle teen die boomstam waar hulle veilig voel en die kleinste kyk kort-kort in die boom op asof hy wonder wanneer sy familie nou na hom gaan kom soek. Te qute en tog so jammer om hulle so te sien. Om hulle le karkassies van klein voeltjies wat dit nie gemaak het nie.

More vertrek ons na Vaalwater om by Faan en Mariaan Taljaard te gaan inloer. Ons gaan een aand by hulle oorslaap en gaan dan DV Saterdag by Tom Burke oor die grens in Botswana in. Ons eerste kampplek in Botswana gaan Khama Rhino Sanctuary wees en ons is al baie opgewonde om daar te kan kom.

Vriendelike groete

Tinus & Pikkie

1 comment:

Tommy van Staden said...

Beste Tinus en Pikkie

Ek groet julle uit 'n nat Pretoria. Dit het heerlik gereën.

Jammer om te hoor van die venster.

Ons het vanmiddag ons departementele Kersfunksie. Ek dink veral die kulturele danse en sang sal opwindend wees :-) Ek hou solank asem op.

Veilig reis. Geniet moeder Afrika!

Groete

Tommy van Staden